Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Crime Beat

@ Sunday Times Books LIVE

Crime Beat Afrikaans: Chanette Paul praat met Tinus Viviers

chanette paulWat ’n mens nie alles sal doen om jou motorpaaiemente op datum te hou nie… In the financial thriller Geld wat stom is (Tafelberg), a beautiful woman, big bucks and veritable baddies give private investigator, Willem Lotriet, the chance to honour the payments on his Tazz.

Lyk my die bankiers is besig om die skrywersbedryf oor te neem. Soos ons vorige skrywer, Riana Mouton, is Tinus Viviers ook in die bankwese. Hy het sy finansiële vernuf deeglik ingespan in die skryf van sy debuut. Geld wat stom is, is ’n finansiële misdaadroman – eerder ’n howdunnit as ’n whodunnit –waarin geldhonger karakters nie skroom om mekaar te verneuk of te moor nie.

geld wat stom isGeld wat stom is
Privaatspeurder Willem Lotriet maak grootliks sy bestaan uit die afneem van ontroue eggenote en daarmee kan hy skaars sy Tazz se paaiement betaal. Wanneer hy deur John Lombard genader word om ene Sanet de Villiers op te spoor, glo Willem sy geluk het gedraai. John is jare terug kwytgeskeld nadat hy verdink is van medepligtigheid aan ’n bankroof. En die Sanet wat John nou soek, het destyds met die geld verdwyn. Net sodra Willem dink hy het haar opgespoor, blyk dit dat Sanet eintlik Michelle is – die tweelingsuster van Sanet.

Intussen doen Michelle se mikroleningsbesigheid besonder goed. En haar ooreenkoms en sakeverhouding met Neville Stemmit, ’n man wat vasbeslote is om op enige moontlike manier góéd geld te maak, werk tot dusver.

Willem besef algaande dat hierdie saak veel meer as ’n blote opsporing is; daar is geld ter sprake en genoeg om iemand tot moord te dryf.

Resensie: Jaybee Roux het onder meer redelike sterk kritiek oor taal-, set- en ander foute. Die storie het hy egter klaarblyklik geniet:

Die leitmotief is geld en die skrywer skep ’n interessante dilemma om gierigheid en die uiterstes waartoe sommige mense sal gaan om ’n fortuintjie te bekom.

Jare ná ’n paar bankrooftogte wil die skurke die buit in hul bankrekenings deponeer, maar die wenkbroue sal lig wanneer iemand met ’n stapel geldnote voor ’n bankteller gaan staan. Die reeksnommers kan nagegaan en die geld met die rooftogte verbind word.

Boonop het die Reserwebank intussen dié geldreeks vervang. Iemand gaan snuf in die neus kry wanneer duisende rande se verouderde geldnote skielik opduik. Die betrokkenes moet koppe bymekaarsit en skroom nie om mekaar in die proses skreiend te verneuk nie.

’n Mens wíl tot die einde toe lees. Die skrywer slaag daarin om ’n swetterjoel interessante karakters byeen te bring en die storielyn desondanks eenvoudig te hou.

(’n Uittreksel uit Jaybee Roux se resensie in Beeld oor Geld wat stom is).

My eie mening: Ek het gevoel te veel karakters se perspektiewe word gebruik. Ek sou veel eerder vir Willem en Sanet ordentlik wou leer ken het. Hulle is interessante karakters, maar veral Willem is nie as hoofkarakter werklik ontgin nie. Ek stem egter saam met Jaybee Roux, die storie boei end uit.

*

Tinus Viviers is die afgelope 30 jaar al in die bankwese en werk tans as senior bestuurder by die hoofkantoor van Nedbank. Hy is getroud en het twee kinders. Hulle woon in Kempton Park. Behalwe vir sy groot belangstelling in rekenaars, aandele en die natuurlewe is hy ’n gesinsman en ’n ywerige gholfspeler.

Tinus vertel: Na afloop van my skoolopleiding op Ellisras en Waterval Boven is ek vol moed Pretoria toe om, soos my pa, ʼn predikant te word. Ses maande van Grieks en Hebreeus het my tot ander insigte gebring. Dominee word, is nie vir syfermense nie. Ek is later getroud en het gedurendende 1979 my eerste tree in bankwese, waar ek vandag nog is, gegee. Eers na die geboorte van beide ons kinders, het ek weer begin studeer en die grade B. Com. en B. Com. Honneurs aan Unisa behaal.

Bedags is ek ʼn rasegte ‘rekenaarnerd’ wat met inligting werk en met aandele spekuleer. Verder is ek baie lief vir sport en geniet dit veral om ʼn Saterdagoggend op die gholfbaan deur te bring. Ek kyk graag rugby en krieket op die kassie en is die perfekte leunstoelkritikus.

Crime Beat: Wat het jou as syfermens laat besluit om ’n boek te skryf?

Tinus Viviers: ’n Hele klompie jare gelede was daar ʼn TV reeks: Triptiek. Daarin was ʼn rekenaarskelm wie se manewales my tot so ʼn mate gefassineer het dat ek een aand opgemerk het dat ek so ʼn storie sal wil skryf. Die idee het lank in my kop gebroei voordat ek aan my eerste poging begin werk het. Nog voor ek klaar was, het ek uitgevind dis waar dat ʼn storie homself skryf en moes tevrede wees daarmee dat die rekenaarskelm ʼn ondergeskikte rol speel.

Crime Beat: Dink jy dat jy Geld sou kon geskryf het as jy nie self in die bankwese was nie?

Tinus Viviers: Ja, ek dink so. Dit sou net baie moeiliker gewees het. In so ʼn geval sou dit nodig wees om vooraf deeglik navorsing oor ʼn verskeidenheid van onderwerpe te doen. Gelukkig kon ek my ondervinding in die bedryf gebruik en was daardie deel van die proses vir my heelwat korter.

Crime Beat: Hoe sien jy vir Willem Lotriet? Watse soort mens is hy?

Tinus Viviers: Willem is ʼn speurder, maar geheel en al te onortodoks om vir Scotland Yard te werk. Maar hy is ʼn mens met dryfkrag. Hoe dan anders, hy spoor homself gereeld aan met sy Vasbyt, lekker nou. Indien hy nog sake soos hierdie kan oplos, sal hy waarskynlik sy visie, om een van die grotes in die bedryf te word, verwesenlik.

Crime Beat: En Sanet?

Tinus Viviers: Sanet se geldhonger is waarskynlik te wyte aan haar arm kinderdae in die weeshuis. Maar sy dryf haar doelwit, om dit wat alles gaan regmaak in die hande te kry, geheel en al te ver. In die proses word sy ʼn dominerende feeks wat ander mense manipuleer en gebruik. Nie eens haar eie liggaam en Neville se lewe tel soveel as haar gejaag na geld nie.

Crime Beat: Beoog jy nog Willem Lotriet-boeke? ’n Reeks dalk?

Tinus Viviers: Ek het al daaroor gedink en sal graag weer oor hom skryf omdat hy ʼn lekker karakter is, maar die idees wat op die oomblik in my agterkop aan’t broei is, pas nie by hom nie.

Crime Beat: Sal jy by finansiële misdaad hou?

Tinus Viviers: Waarskynlik, ja. Tog sluit ek nie ander tipes misdaad uit nie. Een van my ander groot belangstellings in die lewe is sport en iets soos “match fixing” kan maklik die basis van ʼn lekker storie word.

Crime Beat: Na aanleiding van jou liefde vir gholf: As jy ooit ’n misdaadroman sou skryf waarin ’n gholfspeler vermoor word, wie sou jy die moordenaar maak, wie die vermoorde en wat sou die rede wees?

Tinus Viviers: Ek sal beslis daaraan dink om een van die top sterre soos Ernie Els of Tiger Woods as die vermoorde te sien, met ʼn beroepswedder en/of ʼn medespeler/afrigter wat agter die hele ding sit. Tog dink ek dat krieket meer gepas sal wees vir my idee oor “match fixing”. Dink maar aan Hansie Cronjé en natuurlik Bob Woolmer, wat onder vreemde omstandighede dood aangetref is.

Crime Beat: Wanneer skryf jy?

Tinus Viviers: Ek skryf verkieslik in die vroeë oggendure. Dis stil. Daar is nie telefone wat lui nie en niemand wat my gedagtes kan steur nie.

Crime Beat: Wie is jou gunsteling skrywer en waarom?

Tinus Viviers: Ek lees sowel Afrikaans as Engels en ook verskillende genres. Daarom is dit moeilik om een spesifieke skrywer uit te sonder. Maar ongetwyfeld, en nie noodwendig in volgorde van voorkeur nie: Deon Meyer, Francois Bloemhof, Wilbur Smith, Sydney Sheldon, John le Carré en Frederick Forsyth.

Twee lusmaker uittreksels uit Geld wat stom is

Willem Lotriet

Willem se tekkies knars op die teer. Hy hoor sy asemhaling harder word en meet die bult met sy oë. Dis nog vyfhonderd meter tot bo, skat hy. “Vasbyt, lekker nou, vasbyt, lekker nou,” spoor hy homself aan en sit meer krag in die vorentoe en agtertoe swaai van sy arms. Bo aangekom, kyk hy op sy horlosie. Teen hierdie pas gaan hy vyf sekondes van ʼn week gelede se tyd afsny. Dit kom nader aan dit waaraan hy gewoond was, maar is nie goed genoeg na sy sin nie. Hy het laat slaplê. Teen die afdraand voel hy sy hakke hard stamp op die teer. Hy versnel sy pas. Die laaste tweehonderd meter hardloop hy voluit. By die hek stop hy die horlosie en begin stap. Hy is tevrede om te sien dat hy beter gedoen het, gaan staan en haal diep asem. Daar is ʼn donker sweetvlek op die rugkant van sy ligblou T-hemp wat nou los oor sy hardloopbroek hang.

Hy sien die swartkop aangedraf kom en herken haar as een van die twee meisies wat die vorige aand by die chalet langs syne afgepak het.

“Môre,” groet hy en sit sy beste glimlag op.

Sy wuif en draf verby. Al hygende kyk hy om. Nie ʼn slegte lyf nie. Willem stap aan. By die chalet langs syne gaan hy staan om die Mazda se nommerplaat te bekyk. Hy kry lag vir homself toe hy dit memoriseer. Het hy dit só in homself ingedril dat hy elke mens wat bestaan se adres wil nagaan? Dis geen wonder dat Helen gesê het hy sien ʼn skelm agter elke bos nie. Hy sal moet afskakel. Hierdie langnaweek is sy eerste aftyd in vier jaar – en dit met twee meisies in die chalet reg langs hom.

Neville in gesprek met Michelle

Die matte op die vloer demp hulle voetstappe terwyl die sekuriteitswag saam met Neville die trappe na die Jameson Room uitklim. Neville se oë gly oor die ou foto’s en skilderye teen die muur. Die Africana wat in hierdie gebou opgesluit is, moet ongelooflik baie werd wees.

Sy sit en lees in ʼn boek met ʼn leeromslag toe hy die vertrek binnegaan. Sjoe, dink hy, wat ʼn prentjie! Fyn gelaatstrekke, blond en ʼn lyf! Hoeveel ouens het haar al gespyker? Neville grinnik. As hy vyftien jaar jonger was, sou hy haar graag self wou bykom. Maar sy bly ʼn dominerende bitch! As dit nie was dat sy die geld beheer nie, sou hy haar lankal iets laat oorkom het. Stil-stil.

“En die skielike verandering van ʼn bymekaarkomplek? Is die Village Walk nie meer goed genoeg nie?” vra Neville met die intrapslag.

“Dis baie veiliger hier.” Michelle kyk op en wys na die skinkbord. “Kry vir jou.”

Met ʼn sjerrie in die hand begin hy besigheid praat. Die stand en die vordering van sake word in diepte bespreek. Neville se hande werk oortyd soos hy beduie. Hy vertel ook van Duart se deurbraak en die kontant wat hy oor ʼn week gaan nodig hê.

“Is jy donnerswil gek?” sis Michelle tussen haar tande deur. “Nee hel man, dis nie sommer net geld vat en gaan bank nie. Daardie note sal enige wakker kassier se aandag trek. Dis oukei as dit twee of drie in ’n bondel is, maar soveel? Nee. Ek waag dit nie.”

Neville gee Duart se projeksies aan. “Kyk hierna voor jy besluit. Asseblief. Dis in jou belang ook.”

Michelle kyk na die drukstukke en vra uit na Duart se ontledingsmetode. Neville voel verlig toe haar vrae opraak.

“Beteken dit jy gaan dit doen?”

“Ek sal sien.”

Die uitdrukking in sy oë is pleitend. “Michelle, ek moet weet.”

“Neville, jy ken my. As ek sê ek sal sien, gaan ek nie binne tien minute besluit nie.”

Sonder om weer na hom te kyk, tel Michelle die boek op en lees verder. Neville skud sy kop. Ignorant bitch.

Hy sien haar weer opkyk.

“Loop nou. Jy’s verskoon.”

 

Please register or log in to comment