Boekbekendstelling Blues

Boekbekendstellings is nou nie juis die soort ding wat dikwels met skrywers van romantiese fiksie gebeur nie. Na veertien jaar in die skryfbedryf, was dit dus vir Chanette Paul ’n opwindende, maar angswekkende nuutjie om drie bekendstellings van haar krimi roman Boheem in ’n ry te doen.
Die doelbewuste opbou van spanning in ’n boek is een ding, maar dis iets heeltemal anders as ’n mens op ’n vliegtuig klim en wonder of jy oor vyf dae stert tussen die bene gaan terugkom. Twee ure se vlieg is genoeg tyd vir pynlike herinneringe. Hoe vergeet mens immers iets soos die verleentheidwekkende voorval met die Cape Town Book Fair ’n paar jaar gelede waar daar presies drie gaste opgedaag het om te hoor wat ek te sê gehad het oor my reeks van sewe historiese liefdesromans? Daar kon ek my nog troos dat Marian Keyes in dieselfde tydgleuf gepraat het, maar wat van die geleentheid laas jaar in Bloemfontein waar daar net twaalf mense kom luister het toe ek oor Springgety gepraat het – en dit in ’n yslike ouditorium.
Gelukkig word Sophia Kapp se nuutste boek, Die ooreenkoms, die keer saam met Boheem bekendgestel en Hans du Plessis is die fasiliteerder. Hulle sal darem seker mense lok.
Dis egter nie net die vrees dat niemand gaan opdaag wat my teister nie. Die lewe op Stanford is van so aard dat ek gewoonlik nie heeltemal oud voel op vyftigplus nie en ook nie heeltemal so rond en blond nie. Maar langs die soel skoonheid van ’n veel jonger en rietskraal Sophia, besef ek daar waar ek in 17E sit, sal die kontraste in voorkoms besonder opvallend wees. Eckhart Tolle en kie weet miskien hoe om die ego in toom te hou, maar ek is bevrees ek is nog nie daar nie.

Maandagaand is ons uitgewer sensitief genoeg om vir my, Hans en Sophia voor die tyd op ’n stywe dop te trakteer, maar alte gou is die oomblik daar en stap ons aan boekwinkel toe. Die wynbottels staan in gelid buite Centurion se Exclusive Books. ’n Toring elk van Boheem en Die ooreenkoms is uitgestal onder bont plakkate van my en Sophia. Binne dra ’n tafel swaar aan die eetgoed. ’n Meisie met ’n soet stem begelei haarself op kitaar.
Ek kyk weer na die plakkate. Ek droom nie. Dit is regtig vir ons dat al die moeite gedoen is. Sophia se vriendinne daag op en ek slaak ’n sug van verligting. Bribe-a-crowd is beter as niks. Oomblikke later kom stel ’n vrou met ’n gul glimlag haar aan my voor as ’n fan en ek onthou haar naam van ’n briefie wat via my webwerf by my uitgekom het. Alles verander in my binneste. Skielik is ek nie meer ’n vyftigplus XXL-blondine nie, maar ’n skrywer met ’n fan. ’n Aantreklike gryskopman kom ook nader: Tinus Viviers, met wie ek onlangs ’n onderhoud vir Crime Beat gedoen het, al die pad van Kemptonpark af. En toe ek weer om my rondkyk, sien ek net koppe. Nie ’n skare nie, maar niks om oor skaam te wees nie.
’n Mens sou dink dat my senuwees dit Dinsdagaand by Waverley biblioteek beter sou hou. Moenie glo nie. Sam, die bibliotekaris, het hom só goed van sy taak gekwyt dat ’n nuwe kommer sy hande om my keel sit. Al die mense! En hoe volg ’n mens vuurdansers op, wonder ek terwyl ons ná die vertoning op ’n rooi tapyt oopgerol tussen ’n laning fakkels deurstap binnetoe. Die teenwoordigheid van die BD’s van Lapa Uitgewers en die ATKV help ook nie om bewing in my binneste te stil nie.
Hans doen sy inleiding.’n Sweet bars oor my lyf uit toe hy sy eerste vraag vra. By gebrek aan asem hou ek die antwoord bitter kort. Terwyl Sophia haar vraag antwoord, probeer ek die verpestelike hiperventilasie teenwerk. Die tweede vraag lewer ’n ietwat langer antwoord van my op en dan word ons deur die genade onderbreek vir ’n dramatisering van gedeeltes uit die onderskeie boeke. Ek kry rillings van lekkerte terwyl die toneel waarin Katrien op Kobus se lyk afkom voor my oë afspeel, maar maak nietemin seker dat ek ’n paar groot slukke wyn inkry voor ons volgende beurt. Met my asem terug waar dit hoort en danksy Hans se flirtasie met die gehoor, ontspan ek en skielik is dit lekker. Ek sien die mense voor my vir die eerste keer werklik raak. Ek voel hulle welwillende meelewing aan en luister met verwondering hoe hulle vir ons draakstekery lag.
Twee dae later behoort die funksie in Protea Boekwinkel in Potchefstroom ’n vulletjie te wees, nè? Moenie glo nie. Dit voel vir my asof daar professors en literatore is net waar ek kyk. Het iemand dalk nagelaat om vir hulle te sê ek en Sophia skryf kommersiële boeke? My kommer groei toe ekstra stoele ingedra moet word.
Gedurende ons gesprek maak ek seker dat die uitgelese gehoor weet Boheem is nie net ontspanningsfiksie nie, maar het ook ’n goeie skeut romantiese liefde by. Die geleerdes moet tog net nie per ongeluk die boek onder ’n verkeerde indruk koop nie. Toe ek egter weer my oë uitvee, teken ek onder meer ’n boek vir ’n dekaan asook vir ’n professor in ’n vak wat ek nie mooi kon hoor nie en daarna nog een vir ’n professor in Afrikaanse Letterkunde. Ek waarsku hulle weer eens, maar klaarblyklik het professors ook behoefte aan ontspanning.
Toe ons wegry, daal ’n innerlike stilte oor my. Die drie geleenthede wat elkeen gepaard gegaan het met so ’n verskeidenheid vrese en angste, is opeens verby. Die konsert is oor en die verhoog weer leeg. Daar is ’n gevoel in my binnekant wat ek nie mooi verstaan nie. Iets warms en lekkers. Iets te doen met ootmoed, dink ek. Iets wat van my iemand anders maak as die senuagtige 1Time-passasier van ’n paar dae vantevore.
En toe besef ek wat die verskil gemaak het. Al het ek al twee-en-dertig boeke geskryf, voel ek vir die eerste keer soos ’n regte, egte skrywer. Hoekom, vra ek myself af. Omdat mense soveel moeite gedoen het om my boek bekend te stel? Omdat soveel mense die moeite gedoen het om te kom luister na wat ek en Sophia en Hans te sê gehad het? Gedeeltelik, ja. Maar die eintlike rede is dat my lesers vir my nou regtig gesig gekry het. En dié kollektiewe lesersgesig is ’n vriendelike, verwelkomende en ontvanklike een.
Nou eers verstaan ek wérklik vir wie ek skryf, hoekom ek aanhou en wat ’n groot voorreg dit is.







Please register or log in to comment