Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Crime Beat

@ Sunday Times Books LIVE

Chanette Paul praat oor haar krimi Boheem

chanette paulboheemOnskuld word nie maklik bewys nie… veral nie ’n tweede maal nie.
In a murder case guilt is not easy to prove but it is even harder to prove innocence, especially a second time, when every Sunday paper reader thinks you are guilty. This is but one of the obstacles Kayla Cilliers has to overcome in Chanette Paul’s
Boheem, the third novel in her Gys Niemand series. Crime Beat het Leon van Nierop gevra om ‘n onderhoud met haar te voer.

Lapa Uitgewers se persverklaring oor Boheem:

Om vrygespreek te word op aanklag van moord, beteken nie dieselfde as om onskuldig bevind te word nie. En onskuld word nie maklik bewys nie. Veral nie ʼn tweede maal nie.

Drie jaar na die moord op haar man, wen Kayla Cilliers ʼn skryfkompetisie en gaan na die kunstenaarskolonie, Bohemia, om haar manuskrip onder leiding van die wêreldbekende skrywer, Rose-Anne Lockwood, af te rond. Kort na haar aankoms, kom Kayla op ʼn lyk af en dis nie net Mitch Lockwood wat wil sorg dat sy dié keer nie skotvry kom nie.

Boheem is die derde boek in die reeks wat met Springgety afgeskop het en in Fortuin verder gevoer is. Gys Niemand moet weer sy speurvernuf inspan – al is dit uit ’n heel ander hoek as die speurders wat Kayla wil vastrek.

Oor Chanette:

chanette paulChanette woon in ʼn pophuis op die oewer van die Kleine Rivier in die Overbergse dorpie, Stanford, saam met ʼn kat wat sy onlangs by die man in haar lewe afgevry het en haar bure se honde. Sy werk deeltyds as manuskripontwikkelaar vir Lapa Uitgewers, is ʼn onkundige maar ywerige tuinier, ʼn leesvraat en musiekliefhebber. Sy is gek oor die rivierlewe, geniet dit om walvisse by nabygeleë kusdorpe soos Hermanus dop te hou en alikreukels te gaan uithaal by ʼn spesiale plek naby Gansbaai wat sy haar meerminpoel noem.

Besoek gerus haar webwerf vir meer inligting oor haar en haar boeke.

Resensie:
In Beeld sê Jaybee Roux onder meer oor Boheem:

Die deurlopende tema – die mite dat iemand onskuldig is aan ’n misdaad totdat die teendeel bewys word – is interessant en word goed benut. Katrien se man is jare gelede vermoor (en) sy is verdink. Dít is vir sommige so goed soos ’n skuldigbevinding.

Die speurder Gys Niemand maak weer sy opwagting, maar mag nie by die ondersoek na die moord op Rose-Anne betrokke raak nie. Hy gaan “kuier” in Katrien se tuisdorp en stel nie-amptelik ondersoek in na haar man se skietdood. Die leser kry dus twee moordverhale vir die prys van een. Dié twee intriges hou verband met mekaar: As Katrien se onskuld aan haar man se dood bewys word, is dit minder waarskynlik dat sý ’n briewemes in Rose-Ann se rug gedruk het.

San, die weduwee by wie Gys loseer, is ’n juweel en kielie gereeld die lagspiere.

Al is Paul se spanningsromans eerder op emosie as intrige gebou, is daar op bykans elke bladsy verwikkelinge.

Die leser word aan ’n klomp detail blootgestel en moet kophou om by te bly. Paul het die verstommende vermoë om uit ’n magdom feite, vrae, verwikkelinge – met ’n “miskien” en ’n “wat as … ?” om elke hoek en draai – ’n hegte tapyt te weef sonder dat daar ’n enkele los draadjie êrens uithang.

Boheem kan wyd gelees word en sal op meer as een vlak bevredig.
(Resensie verkort)

’n Uittreksel uit ’n lesersresensie van ‘Allison’ op kalahari.net:

Moord, intrige, jaloesie en onvoorspelbaarheid is net ’n paar dinge in Chanette Paul se nuwe roman, Boheem. Kayla Cilliers het ’n skryfkompetisie gewen en gaan na die kunstenaarskolonie, Bohemia en daar begin die moeilikheid. Die karakters word uiters goed beskryf, soos Lente met haar harp, Judy wat stemme hoor en snobistiese Bonnie. Wanneer jy die agtergrond van Boheem lees, kan jy duidelik sien hoe Paul dit pynlik goed nagevors het, om dit onherroeplik te beskryf.
Die roman is ’n gehalte publikasie en jy sal die 586 bladsye deurdraf en spyt wees dat dit klaar is. Boheem is ook ’n uitstekende boek om in leeskringe te behandel en daar is ’n lys van besprekingspunte vir leeskringe agterin die boek.
(Verkort)

Leon van Nierop vir Crime Beat: Wat maak ’n goeie spanningsverhaal?

Chanette Paul: ’n Spanningsverhaal veral, moet voldoen aan ’n vereiste wat (vir my) vir alle fiksie geld: Mens moet die boek nie kan neersit nie. Dit moet jou later die nag in laat lees as wat jy beplan het, dit moet maak dat jy vergeet van die aartappels op die stoof en as die leser hik van die skrik wanneer iemand langs haar praat – wel, dan werk dit.

Crime Beat: In hoe ’n mate moet jou hoofkarakter menslik wees in teenstelling met ’n koelkop-siniese en saaklike karakter?

Chanette Paul: Suspense romans, soos die wat ek skryf, is anders as detective romans. Gys Niemand, my speurder, is meer mens as polisieman. Hy is dikwels nie koelkop nie en ook nie saaklik nie. Hy is wel knorrig. In die tipiese detective roman is die speurpersoon die held (selfs al is hy ’n anti-held) en bevind hom in die magspel met die misdadiger. Gys is nie ’n held nie, hy is net ’n speurder wat daarvan hou om ’n saak op te los en ’n man wat graag sy jeugliefde, Gertjie, se hart wil wen.

Crime Beat: In meeste speurverhale is die speurpersoon gewoonlik die hoofkarakter, maar jou speurder, Gys Niemand, speel ’n ondergeskikte rol in al drie jou spanningsromans tot dusver alhoewel sy kumulatiewe rol al sterker word. Waarheen is jy op pad met hom?

springgetyChanette Paul: Ek het aanvanklik glad nie ’n reeks beplan nie. Inteendeel, in Springgety was Gys veronderstel om net ’n vae polisieteenwoordigheid te wees omdat die polisie logieserwys betrokke moes wees. Toe ek my oë egter weer uitvee, het hy soos dit ʼn speurder-sersant van formaat betaam, beheer oor die situasie (dis nou my stories) geneem en hom ewe ongenooid tussen my ander karakters kom neerplak. Gys het hom tot so ’n mate opgedring dat ek uiteindelik ook sy perspektief moes gebruik. Om dit te doen moes ek probeer om nie net in die kop van ’n speurder te kom nie, maar ook in die kop van ’n man van diep in die vyftig. Die eerste deel was (en is steeds) moeilik en verg baie navorsing, maar ek is nogal verras dat ek gaandeweg Gys se binnewerke as man ontsyfer kry. Ek hoop dat hy teen die einde van die vyfde en laaste boek volwaardig en deurleefd méns sal wees en leer uit sy foute. In hoe ’n mate hy my gaan toelaat, sal ek maar moet sien.

fortuinCrime Beat: Die omgewing waar die moorde plaasvind, speel in elkeen van jou boeke ’n sterk en baie besondere rol. Dit voel soms asof Kruisbaai (Springgety), Paradyskloof (Fortuin) en nou ook Bohemia (Boheem) amper ’n soort abstrakte karakter word. Waarom is omgewing vir jou so belangrik?

Chanette Paul: Omgewing het ook in die werklike lewe ’n baie sterk invloed op my. Daar is sekere plekke wat nie vir my ‘werk’ nie, waar ek ongemaklik voel, en ander waar ek sommer net voel: hier het ek tuisgekom. Daar is plekke wat my fassineer en plekke wat my afstoot.

Vir ’n vorige boek (Leila word lig) het ek ’n aantal jare gelede vir altesaam drie maande op Nieu-Bethesda gaan bly om navorsing te doen, onder meer oor Helen Martins van Uilhuis-faam. Daar het ek baie sterk onder die indruk gekom van die invloed wat seker ruimtes op ’n mens het, hoe ’n spesifieke ruimte mense kan vorm, soms kan heelmaak, soms kan vernietig. Tot vandag toe is daar vir my iets aan Nieu-Bethesda wat anders is as enige ander plek waar ek nog was.

Die ruimtes wat ek in my spanningsromans gebruik, is geïsoleerde ruimtes. Dit moet dus noodwendig ’n invloed hê op die inwoners, nes hulle ’n invloed op mekaar het. Atmosfeer in ’n spanningsverhaal is vir my baie belangrik, en ruimte is een van die maniere waarop mens lekker atmosfeer kan skep.

Crime Beat: Die legende van die visvrou van Kruisbaai is ’n deurlopende motief in al drie die boeke en in vorige boeke het meerminne ook ’n rol gespeel. Waar kom hierdie fassinering met meerminne vandaan en waarheen gaan jy daarmee in jou Gys Niemand-reeks?

Chanette Paul: Mitologie en veral meermin mites het my nog altyd gefassineer, maar dis weer eens op Nieu-Bethesda dat Helen se meerminbeelde my waarlik aangegryp en tot verdere navorsing verlei het.

Daar word gesê dat mites die DNA van die siel is. As dit so is, is die meermin-mite die DNA van die vrouesiel. Wat ironies is omdat meerminne nie siele het nie aangesien hulle onsterflik is – dis nou voor hulle met sterwelinge deurmekaar raak.

Die meermin is by uitstek die uitbeelding van die vrou as intuïtiewe wese in haar oer-vorm. Sy is vasgevang tussen die waters van die onbewuste en die land van die bewuste wat ʼn onderlyf en die vermoë om te kan asemhaal, verg. Sy het immer die hunkering na ’n maat – een wat haar dikwels nie verstaan nie, maar sonder wie sy self nie heel voel nie.

In die Gys-boeke word elkeen van die vroulike hoofkarakters min of meer uitgebeeld in verskillende fases van visvrouskap. Ek het dit nie beplan nie, dit het maar net gebeur nadat ek die (denkbeeldige) legende vir die eerste keer in Springgety gebruik het. In die boek wat ek tans skryf, Meetsnoer, kry die oorspronklike legende ’n stertjie by en ek hoop dat dit uiteindelik in die vyfde boek sal uitloop op ’n ontrafeling van die storie agter die storie van Annie Niemand, die visvrou van Kruisbaai.

Crime Beat: Waar het die idee van die kunstenaarskolonie Bohemia vandaan gekom?

Chanette Paul: Waar die aanvanklike idee vandaan kom, kan ek nie presies sê nie. Moontlik uit besoeke aan plekke soos Nieu-Bethesda, Key West en dies meer waar kunstenaars geneig is om saam te koek.

Die idee dat Bohemia ’n ou Morawiese sendingstasie moes wees, kom waarskynlik van die gevoel wat in my agterkop vasgesteek het, toe ek ’n jaar of twee gelede deur Elim, ’n ent anderkant my tuisdorp Stanford, gery het. Dis versterk toe ek gelees het van die Hemel-en-Aarde sendingstasie anderkant Hermanus wat ’n kolonie vir melaatses was. Dié is nou net ’n murasie, maar dit het my verbeelding aangegryp toe ek foto’s daarvan gesien het soos wat dit gelyk het toe dit nog operasioneel was en op grond daarvan het ek verder daaroor begin oplees.

Bohemia is egter ’n suiwer fiktiewe plek wat net in my kop en op die bladsye van die boek bestaan – nes Kruisbaai en die genesende tuine van Paradyskloof.

Crime Beat: Jou hoofkarakter in Boheem is ’n aspirant-skrywer. Bespeur ’n mens iets outobiografies daaraan?

Chanette Paul: Ek probeer die leser hier en daar insig gee oor hoe hard ’n skrywer aan ’n storie werk, dat dit nie sommer net vir uitdink en dan intik is nie, maar dis nie werklik outobiografies nie. Enige skrywer sal kan beaam dat skryf baie, baie harde werk is.

Crime Beat: Rose-Anne Lockwood is nogal ’n sterk karakter in jou verhaal, maar die leser leer haar eers ken na haar dood. Hoe moeilik was dit om haar stem te gee?

Chanette Paul: Vrek moeilik (no pun intended). Ek het geweet Kayla moet nie net Rose-Anne leer ken nie, maar sy moes ook Bohemia en sy inwoners deur Rose-Anne se oë kon sien. Om briewe of ’n dagboek te gebruik, was te geyk en dit gee mens ook nie die showing wat ek gevoel het nodig is nie. Ek kon eers nie aan ’n plan dink nie en toe onthou ek dat Barbara Cartland al haar boeke op band gedikteer het. Van daar af, was dit makliker.

Crime Beat: Verbeel ek my of speel romanse in Boheem nie meer so ’n sterk rol soos in jou vorige boeke nie?

Chanette Paul: Daar is ’n verskil tussen romantiese liefde en romanse-agtighede. Vandat ek spanningsromans skryf, probeer ek romanse-agtighede vermy, maar romantiese liefde sal seker altyd ’n rol in my boeke speel. Ek bly ’n aartsromantikus en seks-ter-wille-van-seks werk nie vir my nie, daarom kan ek nie daaroor skryf nie. Dis dan ook waarom ek suspense eerder as detective romans skryf.

Crime Beat In hoe ’n mate is navorsing essensieel in speur- en spanningsverhale?

Chanette Paul: O, genade, dis verskriklik belangrik. Benewens navorsing oor speurprosesse en prosedures, is daar ’n magdom ander navorsing nodig om ’n storie te laat werk. Ek is juis besig om my op die oomblik te bekwaam as ’n leke paleobotanis! Die geheim is egter om die navorsing so in te werk dat dit nie die storie oorskadu nie.

Crime Beat: Kan ’n skrywer ook ’n ander dagwerk hê en nog steeds saans en oor naweke ordentlik skryf en ’n sukses maak daarvan?

Chanette Paul: Daar is sulke wonderwesens – soos Deon Meyer bewys het voor hy redelik onlangs eers voltyds begin skryf het en Riana Mouton en vele ander doen dit steeds. Dit sou vir my baie moeilik wees as ek ’n voltydse buitenshuise betrekking gehad het, maar die skryfdrang laat hom nie onderkry nie.

Ek skryf natuurlik ook nie voltyds nie. Ek het ’n tweede en soms derde werk om die pot aan die kook te hou, maar omdat ek alles van die huis af doen en danksy die aard van die werk, kan ek my sake so reël dat ek gemiddeld twee weke per maand voluit skryf en die res afstaan aan my ander werk. Die onderbreking in my eie skryfwerk, dryf my soms teen die muur uit, maar dit het ook sy voordele. Na so ’n onderbreking sien ek dikwels goed raak wat ek andersins dalk sou misgekyk het omdat ek dan weer met ’n redelike vars oog daarna kyk.

Crime Beat: Kan Afrikaanse spanningsverhaalskrywers deesdae ’n bestaan maak bloot uit skryf?

Chanette Paul: Die antwoord is tot dusver ongelukkig ’n jammerlike nee – tensy jy Deon Meyer is en internasionaal gepubliseer word. Maar internasionale blootstelling beteken dat jou werk vertaal moet word – wat duur is – en dan moet jy êrens in die wye wêreld ’n agent kry wat eerstens jou werk sal lees en tweedens daarvan hou en derdens ’n uitgewer vir jou sal vind. Dis juis wat Deon se sukses so waarlik fenomenaal maak. In die algemeen is die paadjie wat die Afrikaanse skrywer stap egter ’n baie moeilike een.

Crime Beat: Wat volg op Boheem?

Chanette Paul: Nog twee Gys-boeke. Ek is besig met ‘Meetsnoer’, die vierde in die reeks, en hoop dat dié in die eerste helfte van volgende jaar die lig sal sien. Die vyfde een waarin die legende van die visvrou van Kruisbaai ontrafel word, sal die reeks afsluit. Dis in elk geval die plan – met Gys weet mens nooit nie.

Lees die proloog van Boheem hier.

Leon van Nierop het in 1975 as omroeper-regisseur by die SAUK begin, werk later ook as TV-draaiboekredakteur by die SAUK en onderskei hom as regisseur en skrywer van radio- en TV-reekse soos Ballade vir ’n Enkeling. Hy het onder meer 23 romans geskryf, vryskut as rolprent-resensent vir verskeie koerante en tydskrifte en was vir vier jaar lank hoof van die Filmskool by die Tshwane Universiteit van Tegnologie. Leon is tans die mede-redakteur van De Kat TV, ’n televisieprogram op SABC 3.

 

Please register or log in to comment