Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Crime Beat

@ Sunday Times Books LIVE

Chanette Paul praat met gatskop-skrywer Karin Brynard

karin brynardplaasmoordIf you love your krimis to take off knee deep in blood and you like gaining insight into several sides of the South African psyche, then Plaasmoord is your book. It’s a …um… bloody good read.

Karin Brynard het die Afrikaanse krimi-wêreld met die trefkrag van ’n asteroïede uit die Baptistina-gordel geslaan. Om Izak de Vries aan te haal: Plaasmoord is ’n bliksem van ’n boek wat spanningsvrate hulle toonnaels sal laat kou van die lekker.

Agterblad:
Plaasmoorde het nooit juis vastrapplek gekry in die ylbevolkte Noord-Kaap nie – maar dan word Freddie Swarts, ’n dertigjarige opkomende skilder, en haar aangenome dogter aaklig vermoor.

Speurder-inspekteur Albertus Beeslaar, pas uit Johannesburg verplaas om ’n nuwe veediefstal-eenheid op die been te bring, moet dié hoëprofiel-plaasmoord oplos. Maar sy grootste stryd is waarskynlik teen homself – hy’s net nie meer die gatskop-polisieman van vroeër nie.

Kort voor lank word Beeslaar en die vermoorde vrou se suster, Saar, ingetrek by bisarre gebeure soos die moord op ’n bobbejaan, ’n veediefstal-sindikaat wat sangomas inspan, ’n groep boere-vigilantes wat oorlog verklaar tee die geweld in die land …

En uiteindelik nóg ’n moord.

Karin Brynard – biografiese inligting
Karin Brynard is ’n joernalis wat wye ervaring opgedoen het tydens haar dekking van, onder meer, die vryheidstryd in Suid-Afrika tydens die apartheidsjare. As politieke korrespondent het sy die vrylating van Nelson Mandela meegemaak en berig oor die veranderende politieke bestel en die beëindiging van apartheid wat daaruit voortgevloei het. Sy werk tans as vryskutjoernalis en woon op Stellenbosch.

Karin was gaaf genoeg om ’n paar Crime Beat vrae te antwoord.

Crime Beat: Jy lees self graag krimi’s. Jy noem Ian Rankin as een van jou gunstelinge en dan ook ’n rits ander name: Michael Robotham, Ken Bruen, Lee Child, Michael Connelly, Dennis Lehane, Robert Crais, Harlan Coben en John le Carré. Hmm-um… almal mans?

Karin Brynard: Ek lees ook vroue – soos die doyenne van die genre, PD James. My eie passie vir die Britse whodunnit het natuurlik by Agatha Christie begin. Ek was baie opgewonde toe ek Minette Walters ontdek het. En die Amerikaner Tami Hoag. Patricia Cornwell, het ek aanvanklik verslind. Maar ek moet sê, eerlikwaar, as ek by ‘n boekwinkel instap, soek my oog eerste die manneskrywers. Ek is eenvoudig net ‘n bietjie allergies vir ‘n vroulike aanslag by ‘n moordstorie. Dit is nie te sê mense soos Hoag en Cornwell of die Skot Val McDermid skryf “vroulik” nie. En ek dink nie soseer misdaadfiksie is ‘n manlike gebied nie. Inteendeel. Maar daar is ‘n grinterigheid aan sekere misdaadromans wat my persoonlik baie aanstaan – en ek dink dis toevallig dat die skrywers mans is.

Crime Beat: Plaasmoord is op een resensie na (sover ek weet) baie goed ontvang, is reeds herdruk en is op ’n hele paar topverkoperlyste. Jy word ook in dieselfde asem as onse krimi-ikoon Deon Meyer genoem. Hoe voel dit om al die lof te kry en die regverdiging daarvoor te sien in die verkope? Hoe voel dit om dan ’n resensie soos die Rapport-een te lees?

Karin Brynard: Die Rapport-resensie was natuurlik nie lekker nie, want niemand wil graag sien dat die een of ander professor in letterkunde die verhaal wat jy geskep het met die doel om te vermaak, aan sy hogere laboratoriumpie onderwerp nie. Daarmee wil ek nie sê dat misdaadboeke nie gemeet hoef te word nie. Dieselfde geld vir ons as vir ander skrywers – die basiese reëls van properse prosa, verteltegnieke, spanningslyn, karakterontwikkeling en dies meer geld vir ons ook. Hoe beter hierdie basiese boustene is, hoe groter impak maak jou storie op die leser. Vergelyk die komplekse karakterisering van Stieg Larsson in sy trilogie met dié van die Amerikaanse skrywer James Patterson, byvoorbeeld. Patterson se Alex Cross en Larsson se Salander is eenvoudig nie met mekaar vergelykbaar nie. Dus vind ek ‘n resensie met bedoeling om probleme in die teks uit te lig en dalk voorstelle te maak oor hoe dit verbeter kan word, uiters nuttig. Of alles resensente dit doen, is weer ‘n ander saak.

Vir my om egter in dieselfde asem as Deon Meyer genoem te word … Nou ja, dit slaan my asem weg. Dis soos om met die Pous gevergelyk te word. Gie-gie.

Crime Beat: Wie is die leser vir wie jy skryf – bewustelik of onbewustelik? Hoe sien jy hom/haar?

Karin Brynard: Ek moet myself aanhoudend daaraan herinner dat dit nie my ma is nie. Want dan sou dit ‘n kinderkranslessie met ‘n swaar morele les gewees het. (My ma vertel hoeka hoe skaam sy voor haar maats in die aftree-oord kry, want sy’s bang die mense dink ons het in die huis so gevloek!). My leser is iemand soos ekself. Iemand wat die boeke lees wat ek lees. En wat dieselfde verwagtinge van ‘n nuwe naam wat homself durf inwurm in die reeds digbevolkte krimi-heelal, koester.

Crime Beat: Hoeveel inligting sit ’n mens in jou teks en hoeveel verwag jy van die leser om te weet? Waar eindig die toeganklikheid wat eie is aan ontspanningsfiksie en waar begin onderskatting van die leser?

Karin Brynard: Ek skryf in die eerste plek vir ‘n Afrikaanse gehoor. Dus is daar sekere goed wat darem wraggies nie verduideliking kort nie. Soos wanneer mense van brannas praat, pleks van brandewyn. Maar as dit kom by tegniese kennis of geskiedenis of ‘n biologiese werking of nadoodse ontleding, sulke goed, kom. Nou ja, dan sny jy ‘n bitter fyn lyn tussen jou eie ego streel en die leser verveel. In Plaasmoord moes ek verskriklik sny aan tegniese, forensiese inligting waaraan ek bitter hard moes werk om eerstens in die hande te kry, en tweedens om self te verstaan, dit só aan die leser oor te dra dat hy nie eens agterkom hy het nou ‘n lesing oor die een of ander sosiale verskynsel van die samelewing gekry nie. Dieselfde geld vir die grondkwessie wat ek aanraak, of die geskiedenis van die Griekwa-nasie. Té veel, en jy verveel jou leser deur sy intelligensie te onderskat en hy maak die boek toe. Té min en jy verwar jou leser en hy begin sukkel. En maak die boek toe. En ons almal weet: boek toemaak is ons doodslag.

Crime Beat: Rapport se resensent sê ‘die enkele teerder oomblikke is nogal ’n verleentheid’. Ek neem aan hy verwys na die liefdes/sekstoneel – waarmee ek terloops geen fout kon vind nie en waarvan Jaybee Roux in sy resensie sê dis ‘kort maar aangenaam’. Dink jy lesers is ‘gemakliker’ met seks-ter-wille-van-seks asook geweldadige sekstonele as die teerder weergawe? Hoekom dink jy so? Hoe voel jy oor liefdes/sekstonele in die misdaadroman?

Karin Brynard: Ek weet glad nie hoekom Rapport se resensent rooi ore kry by die lees van die sekstoneel in Plaasmoord nie. Mens kan net wonder. In my eie huishouding was daar tweespalt oor die seks. My man, ‘n veel ouer-as-ek-Hollander, het gevoel dis oorbodig. Ek vermoed hy kry ook rooi ore by die lees daarvan. Baie van my vriendinne het agterna gesê hulle kon sien die seks is deur ‘n menopousale tante met heimwee na haar wilde jeug geskryf – gie,gie! Maar terug by jou vraag: Ja, ek dink lesers is oor die algemeen meer gemaklik met seks-ter-wille-van-seks. Want dis meer die standaard in spanningsromans.

Crime Beat: Afrikaans ly sleg onder ’n getoutrekkery tussen die literati en ontspanningsfiksie ondersteuners/liefhebbers. Stem jy saam met hierdie stelling?

Karin Brynard: Nee, weet jy, ek dink lesers is besig om baie meer selfstandig te word. Daar is dan nou al glads mense wat in Afrikaans wetenskapfiksie skryf (die meeste nog in blog-vorm, bygesê). Verstaan my mooi: Boekresensies is noodsaaklik. Ek as skrywer wil ek graag leer hoe om dit beter te doen. En as ‘n resensent my in daardie proses kan help dan: Graag, ja dankie! Maar resensente is ook maar mense. Mense met ego’s. En emosies. En soms pleeg hulle resensies wat dalk minder met die boek en meer met die ego’s en emosies te doen het. Maar ‘n goeie boek laat hom nie daardeur afsit nie. Dit glo ek vas. Ek is kwaai onder die indruk van hoe wild en wakker daar in Afrikaans geskryf word. Dis fantasties. En die toutrekkery sal daar altyd wees. Dit geld vir alle vlakke van die kunste – van musiek tot flieks, die verhoog en skilderkuns. Synde my lewe lank al ‘n lid van die sogenaamde “Fourth Estate”, plaas ek die vryheid van mening en die reg om dit te opper voorop. En dit geld resensente eweseer. My uitgangspunt is dat jy aanhou probeer om jou kritici te verras en/of te oorrompel.

En retoriek en debat in die taal is gesond. Maar ons móét deelneem, nie op die draad bly sit nie. Dit is óók wat ‘n taal lewendig maak en hou – gesonde debat.

Crime Beat: Jou roman het ’n sterk politiese inslag en steun ook op historiese kwessies wat deel uitmaak van hedendaagse politiese strydpunte. ’n Mens vind dan ook in meeste ander Afrikaanse krimi’s êrens ’n stewige stuk politiek wat nie net die politiese hede en menslike verhoudings inkleur of bloot dien as sosiale agtergrond nie, maar dikwels deel uitmaak van die ontknoping. Internasionaal is daar onder meer aan Henning Mankell en Minette Walters wat ook (dikwels histories geïnspireerde) sosiale probleme deel maak van hulle verhale, maar dis nie naastenby op dieselfde vlak as wat Suid-Afrikaanse misdaadskrywers politiek betrek nie. Waarom dink jy is daar so ’n sterk politiese inslag in SA krimi’s – boeke wat tog eintlik spanning ter wille van ontspanning behoort te wees?

Karin Brynard: Diep vraag. Maar die eenvoudige antwoord is ons sosiale landskap. Alles in Suid-Afrika is verpolitiseer – hoofsaaklik weens apartheid, en voor dit weens die kolonialisme. En dan is daar die uiteenlopendheid van menings, kultuur en taal, ekonomiese lewenstandaarde. Kyk na die geskiedenis alleen: Afrikaners het hul vorm en inslag vanuit die geskiedenis, byvoorbeeld – die Anglo Boere-oorloë, die verarming as gevolg daarvan, die verstedeliking, die arm blanke vraagstuk, noem maar op. Selfde geld vir swartmense, uit die apartheids- en koloniale geskiedenis. Dus is alles van onderwys, deur grondbesit tot by ons juridiese stelsel deurspek van uiteenlopende sienswyses en menings wat berus op verskeie vertrekpunte. Dit skep spanning. En dis mos kos vir misdaadskrywers. Wat ‘n fees van gegewens en moontlikhede. Laastens: wie sê jy kan nie ontspanningslektuur uit politiek maak nie? John le Carré het ‘n ganse skrywersloopbaan gebou op die politiek van die Koue Oorlog en daarna. Heerlike boeke.

Crime Beat: Jy het sewe jaar aan Plaasmoord geskryf, baie herskryf, dit selfs twee keer heeltemal oorgeskryf. Het jy as joernalis wat daagliks met woorde en ‘stories’ werk, vermoed dit sal so moeilik/tydrowend wees om fiksie te skryf?

Karin Brynard: Dit is darem nie sewe jaar in een stuk net aan Plaasmoord gewy nie. Soms het ek die boek vir meer as ‘n jaar lank neergesit – soos in 2005 toe ek gou ingespring het as assistent-redakteur vir die tydskrif Insig. Tussendeur moes ek met gewone joernalistieke vryskutwerk geld verdien en het ek letterlik net hier en daar tyd gekry om aan die manuskrip te werk. Maar ja, hy is drie keer reg van vooraf herskryf. En toe met byna die helfte verkort en herskryf. En nee, ek het nooit gedink ek sal dit regkry om vir so lank op my stert stil te sit en aan een storie te werk nie. Joernalistiek is juis mos vir mense soos ek uitgevind: aandag-afleibaar par excellence!

Crime Beat: Jy is in jou persoonlike lewe deur hel. Jy het onder meer kanker en alkoholisme oorwin. Hoe het jy dit reggekry om boonop ’n (m.i. heerlike) boek tussendeur te skryf?

Karin Brynard: Ek was gelukkig dat ek goeie vriende gemaak het met die regte mense op die regte tye. En dat ek ‘n fantastiese uitgewer gehad het. Eerstens het Deon Meyer my pad gekruis toe ek met hom ‘n onderhoud moes doen vir Rapport. Ek het hom gevra om ‘n paar hoofstukke van my manuskrip te lees en hy het gelukkig toe die tyd gehad (dit was in 2005 toe ek voltyds by Insig was) om dit te doen. Nommer twee was Hettie Scholtz wat ek as kollega by Insig leer ken het en mee bevriend geraak het. Sy het ook ‘n paar hoofstukke gelees en raad van onskatbare waarde gegee. En toe ek siek raak verlede jaar, was my uitgewer, dr Etienne Bloemhof, soos ‘n ridder op ‘n wit perd. Hy het eenvoudig alles by my oorgeneem en gesorg dat my boek op straat kom. Sonder sy goeie insette en leiding en raad was ek nêrens.

Crime Beat: Jy het gesê jy gaan Krismis begin knibbel aan die volgende Beeslaar-storie. Krismis is verby – hoe lank gaan ons moet wag? Hopelik nie nog sewe jaar nie?

Karin Brynard: Nou vra jy mos nou ‘n onhebbelike ding! My man het my gewaarsku: Hy is amper 80 en hy weet nie of hy nog ‘n boek gaan oorleef nie. So ek skryf dat dit bars.

Crime Beat: Hoe voel jou beneukte Hollander-man oor jou welverdiende sukses?

Karin Brynard: Hy is gelukkig nog net so beneuk soos voorheen. En dit beteken hy’s nog rats en skymvlerp (sic). Dis as hy die dag nie brom en mor nie dat ek bekommerd raak. Dan weet ek sommer hy’t koors!

*

Daar het ’n magdom resensies en onderhoude gevolg na die verskyning van Plaasmoord. Dit sou ’n onhebbelike taak wees om na almal te verwys. Google Karin gerus en leer haar ken uit haar komieklike onderhoude – dis die moeite werd!

Crime Beat sonder ’n paar uitsprake oor die boek uit:

Plaasmoord Resensies Uittreksels
Volksblad – JB Roux: ‘Plaasmoord se titel verklap reeds ’n aktuele, selfs omstrede tema. Brynard bestorm ’n domein waar min engele dit sal waag. Die politieke aspekte rondom plaasmoorde word deeglik by die vertelling betrek, maar só aangebied dat dit nie die vermaaklikheidswaarde ondermyn nie.

‘Ook dié debutant het leiding by Deon Meyer gekry, maar laasgenoemde se invloed is soms te ooglopend. Albertus Beeslaar herinner baie aan Feniks se Matt Joubert; so ook die moeilike regstellende-aksie-opdraggewer.

‘Tog maak Brynard die genre haar eie. Haar skryfstyl is vlot. Sy benut haar kennis van haar grootword¬wêreld deeglik, veral wat dialoog betref. ’n Mens verkneukel jou in woorde soos “mersyngoete” en “opslag-geld” (sic). Die ontknoping is voorspelbaar, maar die leser blý geboei. Humor en kwinkslae is daar genoeg. Die karakters en intrige is meestal oortuigend en prikkelend. En op bladsy 302 bied Brynard dalk die finale antwoord op die plaasmoord-vraagstuk.’

Rapport – Fanie Olivier: ‘Plaasmoord het ’n komplekse en lekker intrige. Geld en mag – en die wraaksugtigheid van verontregte minnaars – staan uiteindelik voorop. Dis ’n stewige gegewe, veral as dit blyk dat ons held Beeslaar ook nog ’n boel bagasie saamdra. Hierdie verlede van hom is waarskynlik die interessantste deel van die roman, juis omdat dit onder bly broei, en werklik deel word van Beeslaar se persoonlikheid soos ons dit leer ken.

Litnet – Izak de Vries: ‘Plaasmoord is dik, dis spannend en dit lees lekker. Ek het by tye my ander werk afgeskeep omdat ek nie kon wág om weer by haar karakters uit te kom nie.

Karin Brynard het ’n uitstekende roman geskryf oor ’n onderwerp wat baie, baie diep sny in ons Afrikaanse psige (verskoon die woordspeling – ek kon dit nie verhelp nie). Daar is vele lyke (die meeste is met messe vermoor) en liters bloed.

Tog. Ten spyte van al die bloed, kan ek nie anders as om te dink dat hierdie boek ’n positiewe gevoel het nie. Die mengsel van spanning, geskiedenis en aktuele nuuswaardighede maak van Plaasmoord ’n grootse roman.

Plaasmoord sal in enige boekliefhebber se smaak val.

Dis ’n bliksem van ’n boek.

 

Please register or log in to comment