Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Crime Beat

@ Sunday Times Books LIVE

Crime Beat: Karin Brynard praat met Chanette Paul oor haar nuwe spanningsroman, Meetsnoer

Crime Beat Afrikaans editor Chanette Paul has just published her new novel Meetsnoer . On Crime Beat’s behalf she was interviewed by Karin Brynard, author of the much acclaimed and prize-winning Plaasmoord.

chanette paulkarin brynardChanette Paul se vierde boek in haar Gys Niemand-reeks van romantiese spanningsverhale het pas die winkelrakke getref. Met hierdie gewilde reeks het sy ‘n nuwe sub-genre in die misdaad-genre losgeskryf – en haar groot lesersaanhang op behendige manier by die genre ingekatrol. Karin Brynard het met haar gesels oor haar nuwe boek, Meetsnoer. (Lapa Publishers)

Karin Brynard: Met Meetsnoer, raak jy ‘n baie aktuele onderwerp aan, naamlik die jaartal 2012 – wat volgens die antieke geloof van die Maja-kalender van 5120 jaar gelede die einde vir die mensedom op aarde inlei. Hiervolgens sal die aarde tot ‘n skielike einde kom op 21 Desember 2012. Daar word baie geskryf oor hierdie datum – veral op die internet wemel dit van die voorbodes en voorspellings. Wat het jou laat besluit om hieroor te skryf?

meetsnoerChanette Paul: Die hele 2012-kwessie en die Maja-kalender interesseer my geweldig baie. Dit was egter vir my ʼn bietjie te volksvreemd om dit as sodanig as tema te gebruik. Daar is ook al te veel daaroor geskryf, in fiksie en andersins, om werklik iets nuuts of anders te kon sê. Verder is dit ook redelik vaag. Alhoewel daar baie teorieë en bespiegelinge is, lyk dit my daar is min of meer konsensus dat die wêreld ‘as we know it’ tot ʼn einde kom en water sal ʼn rol speel. Daarteenoor is die Bybelse Eindtye veel dramatieser.

Geestelike leiers se oproep dat mense moet terugdraai na ʼn konvensionele en fundamentalistiese godsdienssiening asook die ou en nuwe aarde-argumente en die huidige Suid-Afrikaanse en spesifiek Afrikaanse tydsgees, was ook vir my meer relevant binne ons konteks. Ironies genoeg het ek lankal reeds aan Meetsnoer beplan en al reeds ʼn hele ent daaraan geskryf voor verlede jaar se polemiek hieroor onder my aandag gekom het.

Die boek het dus nie sy onstaan spesifiek te danke aan hierdie polemiek of die hedendaags leiers nie. Deur die jare was daar tallose profete, wat die einde van die aarde en die Oordeelsdag spesifiek binne Christelike konteks voorspel het. Ander betrokke terminologie is die wegraping, Armageddon, die apokalips en dies meer wat elkeen ʼn ander nuanse of fase van die einde van die aarde behels. Daar word dikwels ʼn datum daaraan toegedig en beweer mens moet sus of so maak sodat jy nie aan die verkeerde kant van die Oordeel staan nie.

Meetsnoer gaan oor so ʼn profeet en die groep mense wat onwrikbaar glo in wat hy sê. Dit gaan egter ook oor die meetsnoere waaraan die hoofkarakter, Raine, deur buitestaanders gemeet word en wat sy daaraan doen – of nie doen nie. En in die slothoofstukke, oor die meetsnoere waaraan sy haarself, haar medemens, haar lewe en haar toekomsvisie meet.

Uiteindelik gaan die geloofsaspek in die boek oor iets wat goed en reg in sigself is, maar verabsoluteer en dan misbruik word vir persoonlike gewin. Dit gaan oor geestelike misbruik en uiteindelik geestelike mishandeling. Ek probeer nie antwoorde hieroor gee nie, so kan ek my nooit aanmatig nie. Die storie bly in die vorm van ontspanningsfiksie gegiet. ’n Verbeeldingsvlug wat storie geword het.

Karin Brynard: Jy gee jou eie interpretasie aan hierdie voorbode met die godsdienstige kultus wat die hooftema in jou verhaal is – is dit op ‘n werklike kultus gebaseer?

Chanette Paul: Nee. Die Meetsnoer kerk asook die drie broederkerke is die vrug van my verbeelding. Die kerke bestaan nie – nie in Suid-Afrika nie, of in enige ander land nie. Daar bestaan wel soortgelyke kerke en kultusse

In my navorsing het ek op skokkende webwerwe afgekom waarin die haatspraak en fanatisme my asem weggeslaan het. Sommige was nie net Suid-Afrikaans nie, maar ook spesifiek in Afrikaans. Maar ek het darem ook op webwerwe afgekom wat my gemoedsrus gegee het dat fanatisme verreweg die uitsondering op die reël is.

Godsdiens bly natuurlik steeds ʼn baie sensitiewe saak en ʼn baie riskante tema in enige boek. Dis ʼn onderwerp wat mens veral nie sommer in ontspanningsfiksie, spesifiek die romantiese spanningsroman, sal verwag nie. Ek het egter nog altyd geglo mens kan enige tema in ontspanningsfiksie aanpak op voorwaarde dat dit ontspanningsfiksie bly en nie iets anders probeer word nie. Soos byvoorbeeld ʼn preek, of ʼn afdwing van idees nie. Ek hoop ek kry dit met Meetsnoer reg en ook om objektief te bly. Ek hoop dat dit steeds net ʼn storie bly wat mens wegvoer van die werklikheid en jou na ʼn ander, verbeelde realiteit neem. As dit die leser ʼn bietjie laat nadink, is dit ʼn bonus.

Karin Brynard: Hoe het jy jou navorsing hieroor gedoen?

Chanette Paul: Sonder die Internet kan ʼn mens nie meer nie, maar ek het ook ʼn hele paar boeke gelees. Nie net oor kultusse nie, maar veral ook boeke geskryf deur mense wat daarin geslaag het om uit die net daarvan te ontsnap. Ek het ook Jim Jones se biografie probeer lees, maar dit was vir my so verskriklik dat ek dit toe uiteindelik nie kon klaarmaak nie.

Die bronne wat ek gebruik het om vorm te gee aan die kerke en die profeet in Meetsnoer se storie, is nie Suid-Afrikaans nie. Ek het hoofsaaklik gaan kers opsteek in Amerika. DSTV-programme soos onder meer History Channel was ook van groot hulp hierin.

Die stramien van wie en wat Profeet Sias is, is geskoei op die lees van mense soos – onder andere – Jim Jones, David Korresh en Jeffery Lundgren, maar Profeet Sias word ʼn eiesoortige Suid-Afrikaanse weergawe van wie en wat hulle was.

Karin Brynard: Waarom het jy van suiwer romantiese verhale begin wegswenk na romantiese spanning?

Chanette Paul: Spanningsromans in hulle menige gedaantes was nog altyd ʼn leesvoorkeur by my. Ek het dan ook reeds in 1999 my hand aan die genre gewaag met Wip van die droomvanger. Dit was nog in die tyd toe uitgewers skepties gestaan het teenoor spanningsverhale in Afrikaans – laat staan ʼn hibriede weergawe daarvan – al het Deon Meyer toe al begin om ʼn verandering te weeg te bring. Omdat ek om den brode skryf, het ek teruggegaan na suiwer romantiese verhale. Daar was destyds meer publikasiemoontlikhede daarvoor. In 2006 het ek egter die historiese Davel-reeks klaargemaak en toe besluit om aan die diep kant in te spring en weer te probeer. Die Gys-reeks is die resultaat al was dit nie aanvanklik bedoel om ʼn reeks te wees nie.

Karin Brynard: Is daar ‘n spesifieke stel reëls waaraan hierdie genre moet voldoen – om aan die leser se verwagtinge te voldoen?

Chanette Paul: Daar is en daar is nie. Daar is natuurlik die basiese riglyne soos onder meer dat liefde en spanning ʼn geïntegreerde weefstuk moet vorm en daar ʼn gelukkige einde moet wees, maar ek dink die belangrikste is dat jy jou leser ken, ag en vertrou. Ook wanneer mens afwyk en oor die grense van genre-boksies heen skryf. Genre-afbakening se waarde is daarin geleë dat mens sekere soorte boeke van mekaar kan onderskei hoofsaaklik sodat uitgewers en boekhandelaars dit reg kan bemark. Vir die skrywer is die riglyne egter nie in beton gegiet nie – in teenstelling met kategorie publikasies soos die romanse, maar selfs in die romanse kan die speke van die wiel bont geverf word solank die wiel self nie vierkantig gemaak word nie.

Mens moet onthou dat genre-vereistes bloot geskoei is op wat die leser wil hê en dit word bepaal deur die soort boeke wat goed verkoop. Dis nie uitgewers, keurders en boekhandelaars wat die riglyne uitgedink het nie. Die lesers self bepaal waarvan hulle hou deur meer van een soort boek as ʼn ander te koop.

fortuinIn my spanningsromans veral probeer ek in ag neem hoeveel ek die leser binne haar verwagtinge kan bied eerder as om klakkeloos na te volg wat die genre sogenaamd vereis. As die verhaal hom daartoe leen, skuif ek die grense. Ook wat temas betref. Ek was byvoorbeeld destyds baie benoud toe ek Wicca as tema gebruik het in die tweede Gys-boek, Fortuin. Dis tans heelwat van my lesers se gunstelingboek in die reeks al word Wicca nie as boos uitgebeeld soos mens dalk sou verwag nie. Dit het vir my bewys dat lesers bereid is om spronge saam met jou te maak. Ek het dit pas weer ondervind met Meetsnoer. Ek het geweet dis ʼn waaghalsige onderwerp en ja, ek was beangs, maar alle terugvoer tot dusver was net positief. My lesers verstaan die gees waarin dit geskryf is.

Genre-vereistes is ʼn belangrike beginpunt, maar nie die eindpunt nie. Dit kom maar weer eens daarop neer dat solank mens die reëls ken, jy dit suksesvol kan verbreek en steeds jou leser gelukkig kan hou.

Karin Brynard: Wat was vir jou die grootste uitdadings met die nuwe rigting van skryf?

Chanette Paul: Slim lesers. Die tipiese leser van die spanningsroman, lees baie slim. Dis glad nie maklik om hulle aan die raai te hou oor wie die skuldige is, sonder om haar te kul nie.

Die spanningsroman is eintlik ʼn spel tussen leser en skrywer. Die een probeer die ander uitvang en uitoorlê. Die leser verwag van die skrywer om haar genoeg leidrade te gee om agter te kom wie die skuldige is, maar dit so goed as moontlik te versteek sodat sy eers teen die einde doodseker kan wees wie dit is. Die skrywer probeer natuurlik die leser so ver moontlik om die bos lei. En dis moeilik. ʼn Bitter klein dingetjie kan die game te gou weggee – selfs net ʼn enkele woord op die verkeerde plek.

Boonop lees party lesers slimmer as ander. Daar is lesers vir wie jy nie kan uitoorlê nie, die geheim is dan om haar genoegsaam te kan vermaak tot die einde toe al weet sy wie bloed aan die hande het.

Dit was ook ʼn uitdaging om nuwe lesers te wen, dié wat nie romanses lees nie. Dit sluit die uitdaging in om manlike lesers te kan vermaak. Ek skryf by uitstek boeke vir vroue omdat ek vroue beter verstaan as mans. Maar nadat ek agtergekom het sekere van my boeke staan ʼn hele paar manlike lesers ook aan, wou ek graag die net ʼn bietjie wyer span. Uit terugvoer wat ek gekry het, is daar weliswaar mans (en vroue) wat nie dood gesien wil word met ʼn Chanette Paul boek in hulle hande nie, maar daar is ook ʼn goeie klompie wat die Gys-boeke baie geniet. Ek vermoed die mans veral vind aanklank by Gys.

Karin Brynard: Wat is die vernaamste verskille tussen die twee style?

Chanette Paul: Eintlik moet mens na vier invalshoeke kyk. Baie simplisties gestel: Die romanse (romance) gaan by uitstek oor die ontwikkelende liefdesverhouding tussen ʼn man en ʼn vrou. Die liefdesroman (romantic novel) is meer verwikkeld en gaan oor die groeiproses van ʼn vrou in ʼn krisis situasie of moeilike tydperk in haar lewe en wat in die proses ʼn man liefkry.

Daar is dan nou ook twee verskillende spanningsweergawes wat hier uit voortvloei.

Die spanningsromanse (suspense romance) is ʼn romanse met ʼn misdaad by, maar die klem val steeds op die liefde. Die vastrek van die skuldige is ondergeskik aan die ontwikkelende liefdesverhouding.

Die romantiese spanningsroman (Romantic suspense novel) sluit nou weer aan by die liefdesroman (romantic novel). Misdaad is in hierdie geval deel van die moeilike omstandighede/krisissituasie. Daar is ewe sterk klem op die hoofkarakter se groei as mens en op die verhouding tussen haar en die man wat sy liefkry, maar dis ook ewe belangrik hoe die skurk die hoofkarakter se lewe bedreig en daarom, wie hy of sy is. Dis dus ʼn baie verwikkelder storie en gevolglik ʼn heelwat dikker boek.

Karin Brynard: Lees jy veel romantiese spanningsverhale?

Chanette Paul: Ek is nie lief vir spanningsromanses nie. Die omvang van die romanse laat nie werklik toe dat die misdaadverhaallyn bevredigend kan ontwikkel nie. Daarvoor is 44 000-55 000 woorde net nie genoeg nie.

Ek is egter dol oor ʼn lekker dik romantiese spanningsroman. Ongelukkig is dié wat my tone nou regtig laat omkrul, redelik skaars. Daar is wel ʼn magdom internasionale skrywers wat in die genre skryf, maar min van hulle bevredig my werklik en daar is regtig baie prul tussenin. Veral die laaste derde van die boeke is dikwels vir my ʼn teleurstelling. Sandra Brown sʼn gee my egter altyd plesier al spoedlees ek liefs haar langer liefdestonele.

ʼn Eienaardigheid wat moontlik dui op die waarde van genre en sub-genre onderskeid, is dat ek Tess Gerritsen se spanningsromanses nie persent wil hê nie, maar lekker lees aan haar spanningsromans, soos onder meer The bone collector.

In Afrikaans is Isa Konrad ʼn baie belowende nuweling en het hierdie jaar in die genre gedebuteer met Die ondenkbare (alhoewel dit redelik afwyk van die tipiese RSR). Ek het die boek baie geniet en dit stof op ʼn hele paar vlakke baie internasionale eweknieë uit.

Ek lees egter heelwat misdaadfiksie oor die hele spektrum heen.

Karin Brynard: Wie is jou persoonlike gunstelinge?

Chanette Paul: Ek hou deesdae sommer baie van Michael Robotham, Jilliane Hoffman en Tana French, maar ek lees ook graag Skandinawiese misdaadfiksie. Mari Jungstedt, onder andere, doen nogal die ding vir my. Ek was ook gek na Minette Walters se boeke voor sy haar stories begin gebruik het as ʼn forum vir sosiale kwessies. Ek hou ook van Sue Grafton, Michael Connelly, Nicci French, John Grisham ag, te veel om op te noem. In Afrikaans geniet ek Deon Meyer, Riana Mouton en ek het ook jou Plaasmoord baie geniet.

Karin Brynard: Hoe het hulle jou werk beïnvloed? Of aangespoor?

Chanette Paul: As daar een skrywer binne die romantiese spanningsroman genre is wat moontlik ʼn invloed op my werk gehad het, is dit Sandra Brown. Stephen King noem haar werk: Suspense with teeth. Haar storielyne is nootvas en eindig so sterk as wat hulle begin. Maar eintlik skryf ek die soort boek wat ek graag self sou wou lees, maar nog nie my hande op kon lê nie. Dis baie soos toe ek jare gelede ʼn klerefabriek begin het. Ek kon nie interessante klere kry wat my lyf en lengte pas nie, toe begin ek maar vervaardig waarvan ek hou. Gelukkig het ander ook daarvan gehou;-).

Karin Brynard: Hoe lees jy oor die algemeen?

Chanette Paul: Ongelukkig het ek redelik min tyd om te lees. Ek haal hoofsaaklik in op my leeslys wanneer ek my jaarlikse griep/brongitis kry en Desember-vakansies. Verder lees ek oor naweke as daar ʼn paar ure oorbly en saans lees ek so vir ʼn uur lank voor ek gaan slaap.

Karin Brynard: Watter boeke bly jou gunstelinge – en sal jy weer ‘n keer lees?

Chanette Paul: Daar is te veel boeke wat ek nog wil lees om sommige te herlees. My leestyd is te beperk. Dis ook hoekom ek baie gou ʼn boek laat staan as dit my nie boei nie. Van my gunsteling gunstelinge is egter The secret life of bees van Sue Monk-Kidd en Laura Esquivell se Like water for chocolate. Ek het ook Tim Winton se Breath asembenemend (pun intended) gevind. As ek ooit tyd sou hê om te herlees, sou dit waarskynlik die drie boeke wees. En miskien ook The Eight van Katherine Neville, Portrait of Dorian Gray van Oscar Wilde en dalk Perfume van Patrick Süsskind.

Karin Brynard: En hoe het jy begin lees – wie was van kleins af jou gunstelingskrywers?

Chanette Paul: Vandat ek kan onthou het my ma my met stories gevoer, of dit nou vertellings of voorlesing was. Ek het self begin lees vandat ek kón. My absolute gunsteling as kind was die Uile-reeks van Cor Dirks. Dis seker waar my liefde vir spanning sy vroegste grondslag gekry het. Daarna is ek deur ʼn Ena Murray-fase – vandaar sekerlik die liefde. ʼn Boek wat ek voos gelees het, een wat my Hollandse ouma vir my gegee het en een van die min boeke wat ek besit het, was School-Idyllen van Top Naeff. Elke keer snot en trane gehuil. Maar ek het nog altyd feitlik alles gelees waarop ek ook al my hande kon lê. Die groot deurbraak het gekom toe ek begin Engels lees het – ongelukkig relatief laat omdat my ma nie Engels magtig was nie en ons gevolglik net Afrikaanse en Nederlandse boeke by die biblioteek uitgeneem het. (Ek kon Nederlands en Vlaams destyds baie vlotter lees as Engels). Maar toe ontdek ek wat ʼn Book Exchange is en daarmee saam so met verdrag vir Wilbur Smith, Arthur Hailey, Harold Robbins, Jeffrey Archer, Sidney Sheldon, Leon Uris, Robert Ruark, Irving Wallace, Stephen King, Shirley Conrad, Jean Auel. . . ag, al die bestsellers en page turners van destyds. Op universiteit het ek darem ook literêre werke amptelik ontdek alhoewel ek reeds vroeër daarmee kennis gemaak het, maar ek het altyd my voorliefde vir ontspanningsfiksie behou ondanks ʼn meestergraad in Afrikaanse en Nederlandse Letterkunde!

Karin Brynard: Jou speurder, Gys Niemand, beskryf hom soos jý hom sien? Wat is sy karakter-dryfvere?

Chanette Paul: Gys is. . . wel. . . Gys. Ek weet nie uit watter hoekie van my onderbewussyn hy uitgekruip het nie. Hy is intelligent, maar nie intellektueel nie. Hy is ʼn goeie en opregte mens, maar het ʼn humeur en geite. Hy het min begrip vir vroue en vroulike lis. Hy gee om vir sy medemens, maar is glad nie sentimenteel nie.

As speurder is hy eerder hardnekkig in sy soeke na die waarheid as wat hy briljant is. Hy is ʼn individualis en doen sy eie ding sover hy daarmee kan wegkom.

Sy liefde vir Gertjie is geaard in romantiek, maar hy is nie ʼn romantiese mens nie. Hy is knorrig en het soʼn bietjie van ʼn chip op sy skouer omdat hy uit ʼn baie beskeie huis kom.

Ek dink hy is maar soos baie Afrikaanse mans diep in hulle vyftigs. Vir my is hy ʼn mensch sonder fieterjasies. Ek laaik hom en gaan hom baie mis noudat die vyfde en laaste Gys-boek feitlik gefinaliseer is.

Karin Brynard: Jy het nou drie boeke in hierdie reeks – vertel kortliks wat jou planne vorentoe is?

boheemChanette Paul: Daar is reeds vier op die rak, naamlik Springgety, Fortuin, Boheem en nou ook Meetsnoer wat pas verskyn het. Ek is in die doodsnikke van die laaste boek, Dryfhout, wat in Januarie in produksie behoort te gaan en moontlik reeds in Junie 2011 op die rak sal wees.

Ek oorweeg verskeie post-Gys opsies en het nog nie finaal besluit wat ek eerste gaan aanpak nie. So many stories, so little time!

Karin Brynard: Is hierdie ‘n genre wat internasionaal gewild is? JD Robb, Dee Henderson, Victoria Taylor Murray is baie gewild? Hoe beskou jy die gewildheid van hierdie genre?

Chanette Paul: Dis internasionaal ʼn baie gewilde genre. Die lys van skrywers is eindeloos.

Ek dink vroue in die algemeen skram weg van te grusame dinge en meeste het ʼn romantiese streep. Dis hoekom hulle wat flieks betref romantiese komedies verkies bo aksie films. En tog hou vroue ook van ʼn sterk spanningslyn – iets wat misdaadfiksie bied. Deur te voldoen aan ʼn sin vir romantiek en dan ʼn sterk spanningslyn by te voeg, verskaf romantiese spanningsromans die soort mallemeulerit waarvan vroue hou.

Iets wat baie eie aan die genre is, is dat die hoofkarakter ʼn vrou soos enigeen van ons is en tog reusestruikelblokke kan oorkom, haar ‘man’ kan staan en as oorwinnaar uit die stryd kan tree. Die leser sien haarself as die hoofkarakter en vereenselwig haar met dié se stryd en die uiteindelike oorwinning. Sy voel sy word saam met en by wyse van die hoofkarakter bemagtig. Dit is natuurlik ʼn growwe veralgemening, maar ek dink dit is sommige van die redes waaraan die gewildheid te wyte is.

Karin Brynard: Hoe werk jy?

Chanette Paul: Afhangende van die seisoen, gemiddeld 10-12 ure per dag in die week en naweke net soggens. Af en toe neem ek ʼn hele dag af, maar dit gebeur maar selde.

Ek skryf natuurlik nie net nie, maar doen ook manuskripontwikkeling vir Lapa-uitgewers. Wat dit betref, probeer ek die afgelope jaar om ʼn maand vooruit te werk sodat my skryftyd minder onderbroke is. Ek sal byvoorbeeld drie opeenvolgende weke afstaan aan die manuskripontwikkeling en dan vyf weke relatief ononderbroke probeer skryf tensy ek gevra word om ʼn dringende manuskrip tussenin te hanteer.

Iets wat hierdie jaar baie goed vir my gewerk het, is om twee weke op ʼn slag elders te gaan skryf. Dan kies ek ʼn plek waar daar geen internet of TV is nie en verkieslik ook nie ʼn selfoonsein nie. Dit het my in staat gestel om my huidige manuskrip baie gouer af te handel as wat in die verlede gebeur het en ek het heelwat minder storiefoute in die eerste draft begaan. As ek so op my eentjie is, kan ek baie beter konsentreer en skryf maklik veertien ure ʼn dag sonder onderbrekings of dinge wat my aandag aflei of gedagtegang in die war stuur. Dis hemels.

Karin Brynard: Is jy ‘n baie gedissiplineerde werker?

Chanette Paul: Wat skryf betref, sal ek eerder sê ek is ʼn begeesterde werker as ʼn gedissiplineerde een. Dit verg nie dissipline om iets te doen waaroor jy mal is nie. Ek is versot op, dalk eerder verslaaf aan skryf. Dis geweldige harde werk, maar daar is ook ʼn mistiek aan verbonde. Die manier hoe ʼn storie en karakters ʼn dinamika van hulle eie kry. Hoe presies die regte aanhaling of stuk inligting hom net mooi op die regte tyd voordoen. En soveel ander onverklaarbaarhede. Dis hierdie mistiek wat my vasgevang voor die rekenaar hou. Dit en my nuuskierigheid oor hoe die storie gaan verloop, watse draaie dit gaan maak en hoe de hel ek my karakters uit die moeilikheid wat hulle self veroorsaak, gaan los skryf.

Manuskripontwikkeling toets egter my selfdissipline behoorlik. Dis nie lekker om ander skrywers se werk uitmekaar te trek nie. Ek probeer my verslae so vinnig as wat effektiwiteit my toelaat, af te handel sodat ek by my eie werk kan uitkom. Dit is dus die oorsprong van my selfdissipline in die geval – hoe langer ek draai, hoe minder skryftyd bly oor. Die manuskripontwikkeling het egter ook ʼn lekker sy en dis wanneer daardie skrywer wat aanvanklik so gesukkel het, gepubliseer word. En nog lekkerder, wanneer ʼn manuskrip waaraan mens meegewerk het, ʼn topverkoper boek word en nou en dan selfs ʼn Veertjie wen.

Karin Brynard: Word jy baie beïnvloed deur die realiteit van misdaad in Suid-Afrika?

Chanette Paul: As Suid-Afrikaner kan mens nie anders as daardeur beïnvloed word nie. Ek het self al ʼn paar baie taai klappe van misdaad weg – van inbrake tot moord op my voorstoep. Waar ek egter tans woon, leef ons bietjie in ʼn seepbel. Die misdaadsyfer is baie laag in vergelyking met die res van die land.

As skrywer voel ek daar is genoeg ander skrywers wat hulle toespits op die realiteit van misdaad soos dit in die werklike lewe daar uitsien. Dis ook nie in my aard om sulke boeke te skryf nie – ek is te veel van ʼn sissie. Ek konsentreer dus op geïndividualiseerde eerder as tipiese Suid-Afrikaanse misdaad. Die misdade in my boeke is die Inge Lotz-soort pleks van sindikate, reeksmoordenaars en dies meer. My boeke is eerder op emosionele belewing en die universele menslike raaisel ingestel as dat dit ʼn statement wil maak oor die aard van ons misdadige Suid-Afrikaanse realiteit.

Karin Brynard: Watter insae in jouself bring elke boek wat jy skryf tot jou?

Die karakters wat vir roll call opdaag verras my eindeloos. Êrens moet hulle deel van my psige wees, maar hoe versoen jy ʼn Rose-Anne Lockwood met ʼn Mart Vermaak? Hoe kan albei in jou onderbewussyn lê en uitbroei het? Waar kom San vandaan? En waar Gertjie? Ek dink nie ʼn mens kan jou werklik in ʼn karakter indink as daar nie iets van hulle êrens in jou weerklank vind nie. Dit laat my besef dat mens baie komplekser is as wat jy jou ter ere nagee. Dat jy gemeenhede huisves waarvan jy nie geweet het nie, maar gelukkig goeie eienskappe ook. My boeke en karakters bring my te staan voor Jung se konsep van skadu en lig.

Karin Brynard: Wat doen jy met kritiek?

Chanette Paul: Ek is van nature kleinserig, maar ek het grotendeels geleer om dit te verwerk. Ek kan my nog verskriklik vererg vir onregverdige of ondeurdagte of onkundige kritiek. Of ʼn resensie wat meer sê van die resensent as van die boek. Maar ek leer geweldig baie uit geregverdigde opbouende kritiek. Gemotiveerde kritiek hou mens nederig. Dit laat mens besef dat jy nie altyd ewe goed kan wees nie, maar ook dat dit nou nie juis ʼn trein-smash is as jy êrens ʼn flater begaan het nie. Volgende keer weet jy van beter.

Chanette Paul se Blog.

 

Please register or log in to comment